Ons het so lekker laat geslaap. Die son het ons kom welkom heet hier in Ierland. Spesiaal ons eerste oggend kom gesig wys. Ons het eers 10:00 gaan ontbyt eet. Wat n lekker ontbyt. André en Jandré het groot gegaan. Warm ontbyt, koue ontbyt, vrugte en jogurt...... Die eerste happie van die varkworsies het my sommer 20 jaar terug gevat in tyd. My tyd in Spar, my tyd in die Deli. Dit proe soos Ierland. Dit proe nie soos ons varkworsie in SA nie. Dit proe presies soos ek dit onthou.
Na ontbyt pak ons op en gaan na die Dundrum sentrum toe. Simkaarte is eerste op die lysie. Ons kom sommer vinnig reg en die meisie wat ons help is baie vriendelik en behulpsaam. Ons loop nog n paar draaie en dit is tyd om na ons nuwe huis toe te ry. 150km suid van Dublin. Ons ry al langs die kus af. Die son skyn heerlik en Jandré is heel verbaas daaroor, want al wat hy die heeltyd hoor is hoe sleg die weer hier in Ierland is. Later toe ons indraai binneland toe kry ons n vinnig bui reën en toe skyn die son weer. Ons draai af van die snelweg en ry op heelwat kleiner paadjies tot by ons dorpie Duncormick. Duncormick het n Kerk, n begrafplaas, n Pub, n trekkerwinkel en n Auto repair shop. Ons kan nie eens brood of melk koop in ons dorpie nie. Ons bly so 2.4km uit die dorp op n padjie met potholes. Ons begin sommer hardop lag, Ons sal in Ierland in die straat bly met die potholes. Ons voel sommer dadelik tuis. Ek moet erken as ek sê potholes dan is dit nie gate waarin jy kan wegraak nie, meer net n ongelyke pad. Ons naaste brood en melk winkel is in Kilmore Quay wat 6km weg is. n Oulike Spar en dan 12km by Wellingtonbridge is daar n Super Value.
Ons stop by ons nuwe huis vir die volgende jaar. Die landlord en -lady verwelkom ons baie vriendelik en oorhandig die sleutels en wys ons hoe n paar dinge werk. Ons word alleen agtergelaat en nou kan ons eers nuuskierig rondkyk na alles. Ons het 2 sitkamerstelle, n eetkamertafel en 6 stoele, 2 tafels in die studeerkamer en 3 enkelbeddens. Ons dra die enkelbeddens toe na die kamers waar ons wil slaap en trek sommer gou die nuwe lakens wat ons n paar ure terug gekoop het oor. Ons kry elke een 2 fleece komberse en ons kussing. Dit is wat ons het tot ons meubels kom. Ons pak ons tasse uit, sukkel om plek te kry vir dit wat ons gebring het. Wonder waar gaan al die ander klere hang en gepak word wat met die skip kom. Ons sal n plan moet beding voor die ander hope klere hier uitkom. Ons eerste aand in ons nuwe huis. Nag mense.