Ek het met die opstaan vanoggend al geweet my hart gaan in my oë sit. Ek sal nie vandag vir die wêreld my hart kan wegsteek nie. Ek sien uit na die nuwe avontuur en die nuwe fase wat ons betree, maar om my hartsmense hier te los is baie swaar. Dit is die volgende hoofstuk van ons lewe. Ons weet die Here het vir ons die deur oopgemaak en dat Hy Ierland gekies het met ñ doel. Ons weet dat Hy ons nie sal verlaat nie en dat ons net ons oë op Hom moet hou. Hy sal voorsien in alles wat ons nodig het. Vanoggend moes ons gou die huis so bietjie skoon maak. Die laaste goedjies wat nie saam gaan nie, van ontslae raak. Sarah kom darem Woensdag in om skoon te maak. My pa en ma het ook vandag kom groet. Nie ñ groet waarna ek uitgesien het nie, maar daar is darem ñ vooruitsig van ñ kuier volgende jaar as alles volgens plan verloop. Anita het ook kom groet. So bly sy kon ñ tydjie vind voor sy en tannie Vlooi vlieg. Hulle gaan lekker Italië toe. Ons het my nood bril gaan oplaai. So 3 weke terug het ons my bril begin soek. Na ons orals gekyk het en ek almal gevra het of my bril nie by hulle lê nie, moes ek toe maar inderhaas gaan hoor of hulle vir my ñ nuwe bril kan maak voor ons vlieg. Die kant toe en daai kant toe en daar laat weet hulle uiteindelik die bril sal reg wees voor ons vlieg. So 2 dae terug laat weet hulle ek kan die bril Saterdag kry. Ek sê toe it sal onmoontlik wees want dan vlieg ek iewers oor Europa. Na baie smeek en kerm laat weet hulle ek kan maar vandag die bril gaan oplaai. Ek is net bang ek kan nie my bestuurslisensie in Ierland kry sonder my bril nie. Ons gaan eet saam met my ouers by Dopio Zero. Rek die kuier uit vir so lank as wat ons kan. Ons moet huis toe gaan om te gaan stort en tasse toe te maak. Dit beteken ook dit is nou tyd om te groet. Dit is maar nie lekker om hulle te groet nie en ek sluk maar ñ paar keer baie hard. Rooi oë is maar vandag mode in my boeke. Ons stort en maak klaar en sit op n paar tasse om hulle toe te kry. Hoe pak jy jou lewe in 2 tasse van 23kg elk. Alles wat jy nodig het tot die trek in Ierland aankom. André en Jandré kan omtrent net elkeen 3 pare skoene in n tas kry, want een paar nr 12's lê die hele breedte van die tas vol en dit is koud in Ierland, so wintersklere moet saam gaan. Die groot tas het 6 komberse en 3 kussings in. Dit is waar onder ons moet slaap tot ons goed kom. Die fleece komberse het minder plek gevat as die slaapsakke. so een tas word afgestaan aan komberse en kussings. Ek en André het net 3 tsse oor om ons goed in te pas. Jandré moet al sy handboeke inpak. Dit weeg n ton, so hy het ook maar min kilogramme oor vir klere in sy 2 tasse. Ons het omtrent gemeet en gepas en baie goed maar op die einde uitgehaal en moet maar saam met die trek kom. Ek was nog besig om reg te maak toe kom daar ñ agent. André teken die offer en net so is ons huis verkoop. ñ Half uur voor ons lughawe toe ry. Die Here voorsien altyd! Ek kan seker nie nou nog trane stort oor ons huis nie, ons bid al vir maande om n koper te kry. Ons laai die 6 tasse in die Hilux. Die Hilux is reeds Dinsdag verkoop. Die arme man het met n swaar hart ingestem om die kar eers vandag by die lughawe te kry. Nog n laaste foto en sommer een saam met Jacqueline en die kinders ook. Groet en nog drukkies, trane en groot harseer. André maak die paneelkissie oop om seker te maak ons het alles uitgehaal en daar reg voor hom lê my bril. Die een wat soek was. Die een wat nie in die paneelkissie was nie, want dit is waar hy gesoek het. Nou het ek 2. So ry ons vir die laaste keer met André se pride and joy. By die lughawe oorhandig hy die sleutels aan die nuwe eienaar, ek is seker sy ogies blink ook maar. Die familie wag reeds daar, die moeilike deel wat voorlê. As ons net deur die volgende 2 ure kan kom,...............dit het toe so vinnig gegaan. Tasse word gewrap en ingeboek, nog bietjie kuier. 20:00 dit is tyd, Laaste fototjies, Die groot groet, baie trane en nog trane. Ek gaan met rooi oë deur sekuriteit, seker nie die eerste keer wat hulle dit sien nie. Ons loop bietjie in die winkeltjies rond, het nie veel plek om goed te koop nie. Ons dra swaar aan al die handbagasie. 21:40 tyd om op te klim. 22:20 tyd om te vlieg. Tata Suid-Afrika. Ons gaan jou mis. Jy by maar ons huis. Kinders van Afrika.