Home » Blogs  »  En so begin die GROOT trek
En so begin die GROOT trek

Vandag begin die groot trek. Nou wel nie kaalvoet oor die Drakensberge nie, maar na ñ ander kontinent toe. In alle eerlikheid dink ek nie ek sou ñ trek oor die Drakensberge gemaak het nie. Growwe terein, warm son, goggas en wilde diere is nie my ding nie. Ek sal later laat weet of die trek na n ander kontinent toe, my ding is. Ons staan vroeg op om ons laaste goed uit te sorteer. Ek het nooit geweet ons het soveel laaste goed nie. Die 'relocation company' moet tussen 9;00 en 10;00 opdaag, maar hulle stel nie teleur nie en daag eers 10;30 op. Afrikatyd is mos n ding. Vyf pakkers stap deur die huis om te sien wat alles gepak moet word. Ek het geen idee hoe hulle gaan onthou wat gepak moet word nie , want niemand skryf iets neer nie. Nou ja soos ek verwag het word daar toe ñ paar goedjies gepak wat nie gepak moes word nie. Dit wat ons kon sien het ons gered, maar ons sal wel n paar verrassings kry in Ierland. Hulle pak die sitkamer, eetkamer, kombuis, garage en stoep in amper 4 ure op. Dit sou ons weke geneem het om al daai goed gepak te kry. Hulle het nog ' lunch' ook gevat, en half vier is hulle daar weg. Nog effens in skok en met realiteit wat besig is om in te skop, besluit ons om vir oulaas iets lekkers te gaan eet. So stry die drie van ons oor wat ons wil gaan eet. Mustang Sally's is nie oop op ñ Maandag nie, daar val ek eerste uit. Na nog ñ paar voorstelle eindig ons op by Hennie's in Moreletta Park. Jandre geniet ñ groot burger en ek en Andre besluit maar op ñ vleisbord. Vleis is mos duur in die buiteland.  Ons is doodmoeg en emosioneel. Ons gaan slaap, want môre is dag 2................